Posted in Academic and quantitative literacy (AQL), Academic literacy, NBT AQL preparation, NBT preparation

Gestoei om plek op universiteit: akademiese taalvaardigheid ‘n voordeel

Die jaar het nog skaars begin, en vir die Graad 12’s van 2019 lê daar in 2020 klaar ‘n gesukkel voor. Wanneer hulle later vanjaar aansoek doen om universiteitstoelating word daar vir hulle ‘n toenemende skaarste aan plekke voorspel, en veel meer intense kompetisie om ‘n studieplek te kan verseker. Nasionaal is daar eenvoudig meer aansoeke as wat daar beskikbare plekke is. Wanneer universiteite moet besluit watter aansoeke van voornemende studente aanvaar moet word, gaan hul al hoe meer op die uitslae van taaltoetse soos die akademiese en kwantitatiewe geletterdheidskomponent van die Nasionale Normtoetse (NNT’s) en soortgelyke toetse steun. Die uitwerking daarvan sal veral merkbaar wees by kursusse wat hoë aansien geniet, en vir dié wat hoog in aanvraag is.

Kan jy voorberei vir akademiese geletterdheidstoetse?

Daar is ’n misplaaste beskouing dat ’n mens nie vir toetse van akademiese geletterdheid kan of hoef voor te berei nie. Dit is eenvoudig nie waar nie. As jy bekend is met die formaat van hierdie toetse, bied dit jou ’n beduidende en meetbare voorsprong. Deelnemers aan LCaT se werkwinkels skryf inderdaad so ’n toets as deel van die werkswinkel. Dit stel hulle nie slegs bekend aan die moontlike formaat van sodanige toetse nie, maar ook in die algemeen aan hoe om veelvuldigekeusevrae te beantwoord. Deelnemers sal ook vertroud raak met die tipe subtoetse wat hulle in enige gestandaardiseerde toetse van akademiese geletterdheid te wagte kan wees. Hierbenewens merk hulle hul antwoorde op ’n optiese leeskaart, net soos dit in universitêre toetse van akademiese geletterdheid gedoen word.

Die LCaT-werkswinkel oor Akademiese Geletterdheid: Wat kan dit my bied?

Die werkswinkel word deur professor Albert Weideman aangebied en is drie ure lank. Dit skop af met ’n inleiding tot en definisie van akademiese geletterdheid. Dan volg ’n uiteensetting van hoe geletterdheidsvlakke by wyse van toetse gemeet word. Nadat die studente die toets afgelê en hul antwoorde gemerk het, word verduidelik hoe die resultate vertolk kan word. Laastens word ’n meer uitvoerige ontleding van die toetse se subkomponente aangebied. Na afloop van die werkwinkel kan die studente verder self oefen deur die vier oorblywende toetse in die werkboek wat hulle as deel van die werkwinkel ontvang, te skryf. Dit is ’n hoogs gespesialiseerde en unieke werkboek getiteld Akademiese geletterdheid: Vyf nuwe toetse.

Verdere terugvoer aan die skool

Nadat die antwoorde op die optiese leeskaarte rekenaarmatig verwerk is, ontvang die skool ’n selfs meer volledige ontleding van die deelnemers se resultate.

Volledige besonderhede is beskikbaar by die volgende bladsy: LCaT-werkwinkels oor Akademiese Geletterdheid.

Oorweeg om vroegtydig te bespreek, of die boek aan te koop om mee te oefen.