Wat is akademiese geletterdheid?

As die term ‘akademiese geletterheid’ in ‘n enkele sin opgesom moet word, kan dit beskryf word as die vermoë om taal op logiese en analitiese wyse te gebruik, ten einde binne ‘n akademiese konteks inligting te kan inwin, te prosesseer en te kan skep. Om akademiese geletterdheid te toets of te ontwikkel,  het ons egter ‘n meer uitgebreide omskrywing nodig.

Definisie

‘n Verfynde, uitgebreide definisie tipeer akademiese geletterdheid as die vermoë om:

  • krities te dink (analiseer en oorweeg die gebruik van tegnieke en argumente) en logies en sistematies te redeneer in terme van jou eie en ander se navorsing;
  • onderskeidings te maak tussen noodsaaklike en nie-noodsaaklike inligting, feite en menings, stellings en argumente en om onderskeid te tref tussen oorsaak en gevolg, om data wat vergelykings tref te klassifiseer, kategoriseer en hanteer;
  • met (gesproke en geskrewe) tekste in wisselwerking te tree: bespreek, bevraagteken, stem saam/verskil, evalueer, ondersoek probleme, analiseer, bring tekste met mekaar in verband, maak logiese gevolgtrekkings uit tekste, en skep dan nuwe tekste;
  • inligting uit veelvuldige bronne met jou eie kennis te sintetiseer en te integreer ten einde nuwe idees te skep, met begrip van akademiese integriteit en inagneming van die risiko’s van plagiaat;
  • verbande tussen verskillende dele van ’n teks te verstaan, bewus te wees van die logiese ontwikkeling en organisasie van ’n (akademiese) teks vanaf inleiding tot gevolgtrekking, en te weet hoe om taal te gebruik wat die verskillende dele van ’n teks laat saamhang;
  • te weet wat as bewyse vir ’n argument geld, om uit inligting te ekstrapoleer deur afleidings te maak en die inligting of die implikasies daarvan op ander gevalle as die een voorhande toe te pas; kreatief te dink: verbeeldingryke en oorspronklike oplossings, metodes of idees wat die gebruik van ’n dinkskrum of breinkaarte, visualisering en assosiasie kan behels;
  • inligting in grafiese of visuele formaat te interpreteer, te gebruik en te skep;
  • n reeks akademiese woordeskat te verstaan en te gebruik, asook inhoud of dissipline-spesifieke woordeskat in konteks;
  • metafore en idiome vir akademiese gebruik te interpreteer, asook om konnotasie, woordspeling en dubbelsinnigheid raak te sien;
  • verskillende tekstipes (genres) te interpreteer en begrip te toon vir die betekenis wat daardeur oorgedra word en die gehoor op wie dit gemik is;
  • gespesialiseerde of komplekse grammatikale strukture te kan gebruik; ’n groot leksikale verskeidenheid te beheers, asook formele, gesaghebbende uitdrukkings, en abstrakte/tegniese konsepte te kan gebruik;
  • betekenis te skep verby sinsvlak;
  • opeenvolging en volgorde raak te sien, om eenvoudige numeriese skattings en berekeninge te doen wat op akademiese inligting betrekking het, die tref van vergelykings toelaat en vir argumentasiedoeleindes gebruik kan word;
  • jou lees en skryf te interpreteer en aan te pas vir analitiese/argumentatiewe doeleindes en/of in die lig van jou eie ervaring;
  • die kommunikatiewe funksie van verskeie uitdrukkingswyses in akademiese taal te verstaan (soos definiëring, die verskaffing van voorbeelde, die maak van afleidings, ekstrapolering, argumentering); en
  • op ’n gesaghebbende manier te skryf, wat behels die teenwoordigheid van ’n “ek” wat ’n denkbeeldige gehoor van spesialiste/nuwelinge (jong navorsers)/die algemene publiek/media aanspreek.
BRON
Keyser, Gini. 2017. Die teoretiese begronding vir die ontwerp van ’n nagraadse toets van akademiese geletterdheid in Afrikaans. MA-verhandeling, UVS. Available: http://scholar.ufs.ac.za:8080/xmlui/handle/11660/7704. Accessed: 1 March 2018.