‘n Klompie vriendelike matrieks het vandag in die saal van die Hoërskool Linden vergader om voor te berei vir die akademiese en kwantitatiewe geletterdheidskomponent van die Nasionale Normtoetse. Hierdie toetse, beter bekend as die NBT’s of National Benchmark Tests, word toenemend deel van universiteitstoelatingsveresistes. En Lindeniete vat nie kanse nie — as so ‘n toets geskryf moet word, wil hulle weet wat om te verwag. Dit was ‘n kwessie van: “Wys ons die hekkie en ons spring oor hom”.
Prof. Albert Weideman het vertel, maar hulle moes toe self aan die werk spring deur ‘n oefentoets te skryf. Daarna is hul resultate ontleed. Waar haper dit nog? Wat kan verbeter word? Alles is sorgvuldig uitgelig. Die boek wat hulle huis toe neem, gaan help om probleemareas te takel.
LCaT wil graag hulle dank uitspreek vir uitstekende reëlings om hierdie werkswinkel moontlik te maak. Alles het op wieletjies geloop! Dr. Nico van Niekerk, Adjunkhoof: Akademies, het kom oë wys en met die leerlinge gesels. Hy was beïndruk met hul bywoning en meen dat groter bewustheid van die NBT’s ‘n noodsaaklikheid is.
Vir diegene wat ander verpligtings gehad het, daar is nog vier Afrikaanse boeke, teen R250 per boek, beskikbaar by Johan Weideman, ‘n Graad 9-Lindeniet |